SWD KRIEKETRAAD: PREMIERLIGA SEMI FINAAL UITSLAE
9 March 2010
'n Nuwe kampioen in die Premierliga van die SWD Krieketraad sal op 20 Maart gekroon word wanneer Union Stars van Oudtshoorn en Mosselbaai mekaar in die finaal op die REC in Oudtshoorn aandurf. Beide hierdie klubs was aan die wenkant in die semi-finale rondte wedstryde wat die naweek beslis is.
Mosselbaai sal vir die eerste keer in die klub se geskiedenis in die finaal speel nadat hy George op Rooirivier-rift met 79 lopies verslaan het. Die veelsydige SWD speler, Stefan Grobler, was Mosselbaai se groot uitblinker. Die wenspan, wat eerste gekolf het, het danksy Grobler (43) en sy SWD spanmaat Roelof Hugo (22) op 'n moeilike kolfblad 147 lopies op die telbord geplaas en George daarna vir 'n skamele 68 lopies beperk. Grobler (4/10) was Mosselbaai se boulheld.
Union Stars, wat Pacaltsdorp op laasgenoemde se tuisveld aangedurf het, was aanvanklik onder druk met hul telling 110/5 maar het 'n skaflike 214/8 in hul toegelate 45 boulbeurte op die telbord geplaas. Sammy-Joe Avontuur (41), Mario Jansen (36) en Pieter Stuurman (35) het almal goeie kolfbydraes gelewer. Pacaltsdorp het egter gesteier teen die boulwerk van Douglas Baartman (5/21) en is vir slegs 128 lopies uitgeboul wat aan Union Stars 'n oorwinning van 86 lopies besorg het.
Die opgesomde telkaarte is:
Mosselbaai teen George
MOSSELBAAI 147 (Stefan Grobler 43, Roelof Hugo 22, Tossie Marx 18, Wessel Hatrslief 4/18, Danie Liversage 2/3, Wessel van Dyk 2/29)
GEORGE 68 (Martin Coetzee 16, Christopher Prinsloo 16, Stefan Grobler 4/10, Oliver Gosling 3/35)
Mosselbaai wen met 79 lopies
Pacaltsdorp teen Union Stars
UNION STARS 214/8 (Sammy Joe Avontuur 41, Mario Jansen 36, Pieter Stuurman 35, Bardo Fransman 3/41, Gilroy Saaiman 2/42)
PACALTSDORP 128 (Errol Hector 32, Gilroy Saaiman 25, Douglas Baartman 5/21, Andre Olivier 3/13)
Union Stars wen met 86 lopies






















