SWD: KRIEKET SUID-AFRIKA UITDAAGREEKS
12 January 2010
Die afgelope naweek sal deur die SWD krieketspan onthou word as een van verspeelde kanse in hul wedstryde teen KwaZulu Natal in die Krieket Suid-Afrika Uitdaagreeks. Dit volg nadat die SWD die driedaagse wedstryd oorheers het en net nie kon afrond nie toe die wedstryd onbeslis ge-eindig het en daarna die eendaagse wedstryd deur hul vingers laat glip het en met 2 paaltjies verloor het.
In die driedaagse wedstryd het SWD met puik boulwerk deur Bardo Fransman (3/40) en Douglas Baartman (3/27) die besoekers vanaf Durban tot slegs 177 lopies beperk nadat slegs Pierre de Bruyn (77) die mas met die kolf kon opkom. SWD het in hul eerste kolfbeurt 288 lopies behaal vir 'n voorsprong van 111 lopies op die eerste beurt. Gerhard Strydom (102; 155 balle, 1x6, 11x4) het sy tweede honderdtal van die seisoen behaal terwyl Niel Bredenkamp (67; 1x6, 10x4) en William Hantam (51; 6x4) ook met die kolf uitgeblink het. KZN het in hul tweede beurt veel beter gevaar en 301 lopies op die telbord geplaas. Rudi Hillerman (5/55) het in die beurt sy beste boulvertoning vir die SWD gelewer. Die SWD, wat die taak gelaat is om 191 lopies vir 'n oorwinning aanteken kon nie daarin slaag om die oorhand te kry en was teen die einde van die dag op 147/7 met Bredenkamp (61; 7x4) wat vir die beste kolfvertoning gesorg het.
In die eendaagse wedstryd kon die SWD, wat eerste gekolf het, nie aanvanklik die boulwerk domineer nie en het danksy William Hantam (55; 57 balle, 5x4) en Pieter Stuurman (36; 30 balle, 2x6, 3x4) 218 lopies (almal uit) behaal. Met die besoekers se telling op 117/6 en nog 15 boulbeurte oor het 'n oorwinning vir die SWD na 'n formaliteit gelyk en 168/8 het die SWD steeds die oorhand gehad maar 'n onoorwonne vennootskap van 52 lopies van 37 balle om die 9de paaltjie tussen Michael Alexander en Kyle Buckthorp het die SWD se doppie geklink.






















