SWD vs NOORDWES
14 December 2009
Die krieketspan van die SWD reis hierdie naweek na Potchefstroom waar hulle die gedugte span van Noordwes vanaf Donderdag op Senwes Park aandurf in die Krieket Suid-Afrika Uitdaagreeeks. Die Suid-Kapenaars beklee tans die sewende plek uit veertien spanne in die beide die driedaagse en eendaagse reeks nadat hulle vyf van hul dertien wedstryde voltooi het.
Die afriger Gary Hampson het genoeg rede om tevrede te wees met sy span se vertonings maar hy en die span besef dat 'n goeie vertoning in Potchefstroom noodsaaklik is om die momentum wat hulle opgebou het te behou en daarby in 'n goeie posisie te wees voor die Kersvakansie. Hy is veral tevrede met die kolwers se bydraes die seisoen en met die uitsondering van Niel Bredenkamp, wat juis teen sy oud-spanmaats speel, het al die top kolwers al die seisoen groot beurte gespeel.
Die SWD sal egter steeds sonder hul boulangel, Wessel Hartslief, moet klaarkom wat steeds sukkel met 'n dyspierbesering terwyl 'n ernstige kniebesering ook Nigel Brouwers se kanse om weer hierdie seisoen te kan speel belemmer. Die keurders het egter die 17 jarige bybreekbouler van Oudtshoorn, Justin Jordaan, in die span ingesluit en volgens Hampson is hy baie opgewonde oor hierdie jongeling se toekoms.
Die volledige groep vir die wedstryd is: Burton de Wett (kaptein), Sammy-Joe Avontuur, Niel Bredenkamp, Gerhard Strydom, Rudi Hillerman, Pieter Stuurman, William Hantam, Roelof Hugo, Merlin Masimela, Nathan Murray, Bardo Fransman, Douglas Baartman en Justin Jordaan






















