SWD vs KWAZULU-NATAL
5 January 2010
Die SWD snelbouler, Wessel Hartslief
Die krieketspan van die SWD speel vanaf Donderdag op die REC in Oudtshoorn teen KwaZulu Natal in die Krieket Suid-Afrika Uitdaagreeeks. Die Suid-Kapenaars beklee tans die sesde plek uit veertien spanne in die beide die driedaagse en eendaagse reeks nadat hulle ses van hul dertien wedstryde voltooi het.
Hoewel verskeie spelers nog hul fiksheid moet bewys as gevolg van beserings is die kanse baie goed dat die SWD keurders vir die eerste keer hierdie seisoen 'n volsterkte span sal kan kies. Beserings het veral die boulaanval belemmer maar Wessel Hartslief, Bardo Fransman en Merlin Masimela behoort almal fiks te wees vir die wedstryd. Die paaltjiewagter, Roelof Hugo, wat 'n diep sny aan sy voet opgedoen het behoort ook op sy pos te wees.
Die keurders sal wel die 17 jarige bybreekbouler, Justin Jordaan, in die eendaagse wedstryd inspan maar hy neem tot Vrydag deel aan 'n O/18 Nasionale Streekstoernooi in Stellenbosch en is dus nie vir die driedaagse wedstryd oorweeg nie. Die voormalige Gauteng- en Bolandse bybreekbouler, Stefan Grobler, het hom onlangs in die SWD gevestig en hy sal ook vir die wedstryd oorweeg word.
Die volledige groep waaruit die spanne vir die wedstryd gekies gaan word is: Burton de Wett (kaptein), Sammy-Joe Avontuur, Niel Bredenkamp, Gerhard Strydom, Rudi Hillerman, Pieter Stuurman, William Hantam, Roelof Hugo, Merlin Masimela, Nathan Murray, Bardo Fransman, Douglas Baartman, Wessel Hartslief, Justin Jordaan en Stefan Grobler.






















