SWD KRIEKET
30 December 2009
Met ses van sy dertien liga wedstryde afgehandel beklee die SWD tans die sesde plek op die puntelys in beide die driedaagse- en eendaagse kompetisie van die Krieket Suid-Afrika Uitdaagreeks. Die Suid-Kapenaars moet nog sewe wedstryde in beide reekse speel waarvan drie tuiswedstryde is en veral in die eendaagse reeks is die SWD sterk in die wedloop vir 'n plek in die halfeindrondte. Twee verspeelde kanse teen onderskeidelik Gauteng en Noordwes het die SWD se kanse vir 'n stewiger posisie in die driedaagse reeks egter belemmer.
Twee spelers vaar egter ook uitstekend in die kompetisie. Die linkshandige middelkolwer, Gerhard Strydom, met 538 lopies teen 'n gemiddeld van 48.90 is tans die voorste lopiemaker in die driedaagse reeks en 'n persoonlike uitsondelike mylpaal van 1000 lopies vir die seisoen lyk binne bereik. Strydom se voormalige veelsydige Cobra-spanmaat, William Hantam, beleef ook 'n skitter seisoen. In die driedaagse reeks het hy, met 400 lopies, die 9de meeste lopies behaal teen 'n gemiddeld van 40 terwyl hy met 23 paaltjies die tweede meeste paaltjies in die kompetisie ingeoes het. In die eendaagse kompetisie is Hantam veral met die kolf skitterend op dreef en is hy met 274 lopies teen die 'n gemiddeld van 137 die voorste lopiemaker en bo-aan die kolfgemiddelde. Die kaptein, Burton de Wett (204 lopies teen 'n gemiddeld van 34) het die sesde meeste lopies in die eendaagse kompetisie gemoker.






















