SWD SKOLE SPELERS IN SA SPANNE
30 December 2009
Verskeie spelers van verteenwoordigende SWD Skole spanne wat onlangs aan nasionale toernooie van Krieket Suid-Afrika (KSA) deelgeneem het, het presteer deur vir meriete spanne gekies te word wat na afloop van hierdie toernooie aangewys is. Riaan Botha van Hoërskool Outeniqua, wat met 16 paaltjies - die meeste paaltjies tydens die Coca Cola Khaya Majola week - wat in Benoni plaasgevind het spog, is in die SA Jongspan opgeneem. Botha, wat ook hierdie seisoen 'n groot held vir die SWD 0/19 span in die KSA Driedaagse kompetisie was, kan homself werklik ongelukkig ag dat hy nie die SA Skolespan gehaal het nie. Sy beste boulontleding op die toernooi was 5/16 (vs Namibië).
Botha en drie ander spelers naamlik Marcello Piedt, Brendon Louw (beide Hoërskool Outeniqua) asook Justin Jordaan (Bridgton Senior Sekonder) is ook ingesluit in die Warriors 0/18-span wat vroeg in Januarie aan die nasionale O/18 streekstoernooi deelneem. Die 17 jarige Jordaan wat groot belofte as bybreekbouler toon het reeds sy debuut vir die SWD senior span gemaak.
Bernadine Bezuidenhout, wat die meeste lopies (274 lopies) tydens die Nasionale Dogters 0/19 toernooi wat in Oos London plaasgevind het gemoker het, het die eerste SWD-speler geword om die Nasionale Dogters 0/19 span te haal. Bezuidenhout, wat ook die paaltjiewagter van die SA Skolespan is, se beste kolfvertoning op die toernooi was 116 (vs Griekwas).






















