SWD KRIEKET KLOP NOORDELIKES
24 November 2009
Die SWD middelkolwer, Pieter Stuurman (108; 163 balle, 3x6, 8x4) wat die naweek teen Noordelikes sy eerste eersterangse honderdtal behaal het in aksie in sy kolfbeurt.
Die krieketspan van die SWD het die afgelope naweek nog 'n roemryke oorwinning oor een van die groot provinsies in Suid-Afrikaanse krieket behaal toe hulle Noordelikes op Oudtshoorn in die driedaagse wedstryd in die Krieket Suid-Afrika Uitdaagreeks oortuigend met 8 paaltjies geklop het. Die tuisspan het die wedstryd deurgaans oorheers en het reeds vroeg 'n slag geslaan toe die besoekers, met Douglas Baartman (4/41) aan die spits in hul eerste beurt vir slegs 174 lopies uitgeboul is.
Douglas Baartman (4/41 in die eerste beurt) en (4/57 in die tweede beurt) was die SWD se groot uitblinker met die bal in hul oorwinning in die driedaagse wedstryd oor Noordelikes.
Die SWD kolwers het daarna die Pretorianers se boulaanval behoorlik kasty en hul eerste beurt op 328/9 gesluit verklaar vir 'n voorsprong van 154 lopies op die eerste beurt. Pieter Stuurman (108; 163 balle, 3x6, 8x4) wat sy eerste eersterangse honderdtal behaal het, was in 'n rekord vennootskap van 134 lopies om die 7de paaltjie met Nathan Murray (60; 145 balle, 7x4) betrokke terwyl Gerhard Strydom (74; 98 balle, 12x4) se kolfwerk ook voortreflik was. Noordelikes is daarna in hul tweede beurt vir 278 lopies met Baartman (4/57) en William Hantam (3/74) die uitblinkers met die bal. Die SWD het daarna die wenteiken (128/2) met nog 8 paaljties in die bank verbygesteek. Burton de Wett (56; 84 balle, 1x6, 6x4) was die SWD se beste kolwer.
Die SWD span was weens verskeie beserings erg uitgedun vir die eendaagse wedstryd en 'n vennootskap van 247 lopies om die eerste paaltjie tussen die twee Titans franchise spelers, Blake Snijman (157) en Pieter Malan (101) het die grondslag vir 'n groot telling van 348/6 daargestel. Merlin Masimela (4/55) was SWD se beste bouler. Met die SWD se telling op 106/0 na 8 boulbeurte met veral Gerhard Strydom (83; 30 balle, 7x6, 10x4) in top vorm het die onmoontlike nog waarskynlik gelyk maar die tuisspan het met reelmaat paaltjies verloor en is vir 243 lopies uitgeboul wat aan Noordelikes 'n wraak oorwinning van 105 lopies besorg het.






















